Dene Friedmann

Sy het gehelp om die hart-long-masjien te bedryf.


‘Daar was net ’n groot gat in sy borskas’

Elsabé Brits

Sy onthou hoe stil dit was, niemand het eintlik gepraat nie. En hoe ernstig almal was, want langsaan het die lewelose liggaam van ’n jong donkerkop vrou gelê.

Dene Friedmann het, danksy prof. Chris Barnard, in 1966 begin met opleiding as tegnikus wat die hart-long-masjien bedryf.

Op 2 en 3 Desember 1967 het sy Johan van Heerden met dié taak bygestaan. En dié werk het sy uiteindelik 48 jaar lank gedoen.

Dene Friedmann praat in Kaapstad oor haar ervaring tydens die eerste hartoorplanting. Sy was die assistenttegnikus van die hart-long-masjien wat in die oorplantingsteater gewerk het. Foto: Le Roux Schoeman“Niemand het daardie aand gepraat tensy hulle moes nie. Almal was baie ernstig  . . . Chris het die hele tyd beweeg tussen die twee teaters (waar Louis Washkansky en Denise Darvall was) tot hy die hart in die silwer bakkie gebring het. Dit was in ’n yskoue oplossing en ons het dit dadelik aan die hart-long-masjien gekoppel sodat dit nie agteruitgaan nie.”

Dit was net so ’n fenomenale oomblik toe Barnard die siek hart van Washkansky verwyder en die oop borskas sonder ’n hart gesien kon word.

“Daar was net ’n groot gat, maar die pasiënt is aan die lewe gehou deur die hart-long-masjien. Niemand het in daardie stadium al so iets gesien nie,” vertel sy.

Al wat hulle kon hoor, was Barnard se stem wat vir die instrumente vra en die geluid van die masjien.

Die jonger Dene Friedmann in die dae toe sy by die Groote Schuur-hospitaal gewerk het. Foto: VerskafToe Washkansky weer warm gemaak en die klamp afgehaal is sodat die warm bloed in die hart kan loop, het die hart vanself gebewe.

Barnard het gesê: “Dit gaan werk.”

Kort daarna is die hart geskok en dit het normaal geklop. “Mense het geluk gesê en daar was ’n gevoel van blydskap in die lug. Maar nooit, ooit het ons gedink dit gaan sulke groot nuus wees nie. Niemand het daaraan gedink om ’n kamera saam te bring die aand nie.”

Sy wou die handskoene waarmee Barnard geopereer het vat, was en bêre, maar sy was te bang vir Peggy Jordaan, die senior suster wat soos ’n arend oor alles gewaak het. ’n Paar maande later het Barnard gesê: “Dis jammer iemand het nie die handskoene gebêre nie, daar is mense wat dit soek.”

Sy het vir hom gesê sy het dit oorweeg en hy het gesê: “Dit is jammer, jy kon baie geld gemaak het.”

Sy sê uit vrees vir infeksie is baie min mense by Washkansky toegelaat. Hy het Barnard die “man met die goue hande genoem”.

Dit was egter nie orgaanverwerping wat sy lewe geëis het nie, maar longontsteking. “Hulle het alles onder die son probeer,” vertel sy.

Friedmann het tot in 1983, met Barnard se aftrede, saam met hom gewerk en met hom vriende gebly tot sy dood. “Dit was ’n voorreg om saam met hom te kon werk, hy het 100% van almal vereis. Sy standaarde was so wonderlik hoog. Hy het jou na jou beste laat strewe.”

Elsabé Brits

Le Roux Schoeman

Rudi Louw

Deel