Suster Tollie Lambrechts

Een van die susters in die operasieteater vertel.


‘Hier lê die siek hart, maar hy klop nog’

Elsabé Brits

“Hel Rodney, dit werk!” het prof. Chris Barnard aan dr. Hewitson, ’n ander chirurg gesê, en sy hande geneem, nadat Louis Washkansky se skenkerhart begin klop het.

Suster Tollie Lambrechts, een van ’n handvol oorlewendes wat die nag van die eerste hartoorplanting in een van die twee operasieteaters was. Sy praat in haar huis in Kaapstad oor dié geskiedkundige gebeurtenis. Foto: Adrian de KockDít onthou suster Tollie Lambrechts goed van die eerste hartoorplanting, want sy was daardie nag een van die susters in die operasieteater.

Hulle was toe reeds opgelei om te help met opehartoperasies.

Daardie Saterdagaand van 2 Desember 1967 het hulle die oproep gekry om dadelik hospitaal toe te kom. “Ons was toe al weke lank op roep, want ons het geweet daar gaan ’n oorplanting wees.”

Die jong suster Tollie Lambrechts was ten tyde van die eerste hartoorplanting 25. Net so oud soos die skenker, Denise Darvall. Foto: VerskafDie jong vroue – vier jong susters wat op bystand was – het soms, wanneer hulle in dié tyd strand toe gegaan het, die naaste polisiekantoor se nommer vir die hospitaal gegee en dan vir dié polisiebeamptes gesê om hulle op die strand te kom soek as die hospitaal sou bel. Só moes boodskappe destyds nog gegee word. Dit was darem net te aaklig om die hele tyd by die telefoon te sit en wag.

Laat die Saterdagaand het sy in haar Anglia gespring en hospitaal toe gejaag.

Daar het sy vir Dene Friedmann, assistenttegnikus wat met die hart-long-masjien gewerk het, gekry.

“Ons moes die masjien, wat toegesluit was, na die teater neem en die enigste pad was deur die dokters se aantrekkamer. Ons het prof. Chris (Barnard) daar sien sit, baie diep ingedagte. Hy het geknik toe ons vra of ons maar kan inkom. Later het hy in sy boek, One Life, geskryf hy het op daardie oomblik getwyfel, maar toe hy sien hoe vasberade ons is, het hy geweet hy moet dit doen,” vertel sy.

Vier van die vyf oorlewende lede van die eerste hartoorplantingspan was verlede jaar by die opening van die nuwe Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Roggebaai, Kaapstad. Van links is Tollie Lambrechts, dr. Cecil Moss, Georgie de Klerk en Dene Friedmann. Dr. Joseph Ozinsky was siek, hy is in 2017 dood, Moss is in Oktober 2017 dood. Foto: Elsabé BritsDit was Peggy Jordaan, die senior suster, wat die instrumente vir Barnard aangegee het. “Ek was die skiewie in die ontvangerteater. Ek het nie vir Denise (Darvall) gesien nie, maar geweet ons was ewe oud, 25.”

Sy onthou toe Washkansky se hart uitgehaal is, is dit in ’n bak gesit. “Dit het nog geklop. M.C. Botha, ’n dokter wat aan die bloedlaboratorium verbonde was, het vir my gesê: ‘Gee vir my voor hy uitspring.’ Dit was so vreemd. Hier lê die siek hart, maar hy klop nog.”

Almal was verlig toe die operasie verby is, en die meeste van hulle is teen 09:30 huis toe.

“Ek het gaan slaap tot hulle gebel het en gesê ek moet om 17:30 by die hospitaal wees in volle uniform vir ’n foto, want hulle het nog nie een geneem nie.”

Nadat die wêreld van die nuus gehoor het, moes hulle ’n week later ’n nabootsoperasie vir ’n Amerikaanse TV-span doen.

Niemand het ooit gedink so iets is moontlik nie, sê Lambrechts. Veral nie dié vrou wat op 16 al op Moorreesburg matriek geskryf het en toe aan ’n Engelse universiteit verpleegkunde gaan studeer het nie.

Volgende:

Dene Friedmann

Elsabé Brits

Le Roux Schoeman

Rudi Louw

Deel