Nalatenskap: Meer as net ’n hartman
Dit is vir sy werk met siek kinders dat Barnard graag onthou wou word, vertel dr. Otto Thaning.
Die vader van intensiewe sorg wat nie kleur gesien het nie
Elsabé Brits
Dit is danksy prof. Chris Barnard dat die wêreld vandag “iets soos intensiewe sorg het. Hy was die vader van dié veld wat vandag ’n spesialiteit is,” vertel dr. Otto Thaning ’n chirurg wat lank saam met Barnard gewerk het.
Dit was ook Barnard wat een nag in 1974 gesê het Thaning kan die wit en swart kinders in een saal by die Rooikruis-kinderhospitaal sit. En so het dit gebly.
Hy was toe besig om te spesialiseer in chirurgie nadat hy reeds in 1966 as dokter gekwalifiseer het. “Ek het met ’n pak klere opgedaag vir ’n werkonderhoud by Groote Schuur in 1971 en hy (Barnard) het vir my gesê om saam met hom middagete te gaan eet. Aan die einde van die ete het ek die werk gehad. Ek het saam met hom gewerk tot hy afgetree het in 1983.”
Thaning praktiseer steeds by die Netcare Christaan Barnard-hospitaal in Kaapstad. Hy was ook by die City Park-hospitaal voordat dié hospitaal later na Barnard genoem is.
In sy kantoor vertel hy hoe Barnard ná elke operasie wat hy gedoen het, veral die oorplantings, deurnag by sy pasiënte gewaak het. Dit is wat intensiewe sorg is. Hy het verwag dat sy dokters wat aan diens was, dit ook moet doen en hom in die nag op die hoogte hou van wat aangaan.
“Een nag het ek hom 01:00 by die huis gebel en gesê: ‘Ek het jou nou hier (Rooikruis-kinderhospitaal) nodig.’ Hy het daar aangekom met sy das en pak klere. Hy het reguit na die kind gestap en hom ondersoek. Daarna het hy verby my gestap en die deur van die eenheid toegeslaan. Ek het gesien hoe hy rondloop, stelselmatig. Hy het geloop en dink. Hy het teruggekom en gesê wat ek moet doen en dat ek hom elke halfuur moet bel.
“Ek het gedink ek gaan my werk verloor. Maar teen 04:00 was die kind stabiel.”
Op ’n ander aand kon Thaning dit nie meer hou nie. Die wit kinders wat in die intensiewe sorgeenheid was, was in een saal. En reg onder hulle die swart kinders. Daar was altesame ses pasiënte en hy moes tussen die verdiepings hardloop om na hulle om te sien. Hy het Barnard gebel en gesê hy gaan die wit en swart kinders in een saal sit, al is dit onwettig.
“Ek het vir Chris gesê as hy sê ek kan dit doen, dan kan ek. Hy het gesê: ‘Nou maar doen dit!’ Die volgende dag het die superintendent daar ingekom en gesê dit is nie wettig nie, maar ons moet net stilbly. Daarna was die sale gemeng. Niemand het gekla nie,” vertel hy. Dit was in 1974.
Hy sê mense besef dalk nie “watter besonderse brein hy gehad het nie, hoe uitsonderlik slim hy was nie”.
Op Thaning se rekenaar is ’n foto van Barnard wat ’n kind vashou, die kind klou aan hom vas. “Die foto beskryf wie Chris was. Jy kan die deernis op sy gesig sien.” Hy het omgegee vir siek kinders, maak nie saak watter kleur hulle was nie. Dit was juis sy werk met kinders waarvoor hy onthou wou word.
Volgende:
Chris Barnard:
Die Pionier