50 Jaar later: Al minder oorplantings

Ons operasietegnieke is beter. Maar nie die hoeveelheid organe nie – dit het minder geword, vertel dr. Willie Koen.


Organe raak ál hoe minder, meganiese harte die uitweg

Elsabé Brits

Alles rondom hartoorplantings het ten beste verander in 50 jaar, behalwe die beskikbare organe om oor te plant: Dit het minder geword.

Dr. Willie Koen, hartchirurg by die Netcare Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad sê: “Ek is al so moeg gesoebat vir skenkerorgane. Ons operasietegnieke is beter. Ons medikasie is beter. Ons begrip van pasiënte is beter. Maar nie die hoeveelheid organe nie – dit het minder geword.”

Dit het hom onder meer daartoe gedwing om meganiese harte vir mense in te plant. Dit moet egter nie verwar word met ’n kunsmatige hart nie.

Dr. Willie Koen, hartchirurg by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal, en ’n baanbreker in Suid-Afrika met die meganiese hart, verduidelik hoe dié stelsel werk. Foto: Elsabé BritsSedert 2000 het Koen al 48 meganiese harte ingeplant. Die grootste voordeel is dat mense nie hoef te wag vir ’n orgaan nie en hulle hoef nie medikasie te drink wat verwerping keer en vele newe-effekte het nie.

Een so meganiese toestel is die abdominale linkerventrikulêre assisteertoestel, beter bekend as ’n ALVAD. Dit werk met twee batterye wat ’n mens in ’n sakkie om jou heupe dra – die batterye het ’n leeftyd van tussen agt en tien uur. Die meganiese pomp word ingeplant in die linkerventrikel en verbind met ’n koord aan die batterye. Die meganiese pomp neem die funksie van die hart oor, en hoewel die bloed nog deur die hart gevoer word, dien die hart suiwer as ’n reservoir sodat hy kan swel en krimp. Die pasiënt het nie meer ’n hartklop nie. As iemand se longe swak is, kan ’n ekstra toestel geheg word om met suurstof te help.

Koen sê mense moes ’n paar jaar gelede dié toestel rondstoot, nou dra jy dit maklik om jou lyf. Binnekort sal die batterye so klein wees, dit sal ook ingeplant word. Dit sal dan koordloos gelaai kan word.

Die R1,6 miljoen wat die ALVAD kos, word binne vyf jaar verhaal, sê Koen, wanneer dit met die baie toetse en medikasie van ’n hartoorplanting vergelyk word. Omdat die beskikbare skenkerharte vir kinders nog skaarser is, plant hy die ALVAD ook in kinders oor, totdat hulle op sowat 16 jaar groot genoeg is vir ’n skenkerhart.

Oor prof. Chris Barnard: “Hy het soveel entoesiasme vir kardiologie gebring in Suid-Afrika dat hy vir ons ’n ikoon geword het. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe slim hy was.

“Destyds was daar twee skole – dié wat meganiese harte gesteun het en dié wat biologiese oorplanting gesteun het. Biologiese harte het gewen en die ontwikkeling van meganiese harte het vir ’n tyd opgehou.

“Chris was ook nie ’n voorstander van meganiese harte nie. Ek wens ek kon egter vandag vir hom die sukses van die ALVAD wys.”

 

Meer as 120 000 het sedert 1967 hartoorplantings gekry

Elsabé Brits

Sedert daardie eerste hartoorplanting in 1967 gedoen is tot vandag het meer as 120 000 mense oor die wêreld heen al dié operasie ondergaan, sê dr. Susan Vosloo, hartchirurg van Kaapstad by die Netcare Christiaan Barnard-hospitaal.

In haar loopbaan het sy byna 100 hartoorplantings gedoen. Een van die pasiënte op wie sy in die laat jare tagtigs ’n hartoorplanting gedoen het, lewe steeds.

Die groot uitdaging bly om skenkerharte en ander organe te kry. Daarom is sy nou betrokke by die Orgaanskenkingstigting. Hulle probeer gedurig om die proses makliker te maak sodat dokters beter kan kommunikeer met oorplantingskoördineerders. Openbare veldtogte om mense in te lig oor orgaanskenking is ook op die agenda.

Hoewel sy te jonk was om onder prof. Chris Barnard te studeer, het sy hom goed leer ken in sy later jare. “Hy het ’n besondere vermoë gehad om komplekse probleme op te los en hy het ’n wonderlike sin vir humor gehad. Hy was iemand wat glad nie te belangrik was om met ander te kommunikeer nie . . . Ek het baie goed met hom bespreek en hy was baie ondersteunend toe ek in 1995 die hartoorplantingseenheid by City Park-hospitaal begin het.”

Dr. Susan Vosloo in haar kantoor in Kaapstad.Foto: Lulama ZenzileVosloo vertel van ’n onderhoud wat Sandra Prinsloo met hom gedoen het en vir hom gevra het waarvoor hy graag onthou wil word. Sy antwoord was dat baie mense hom onthou vir die mens wat die eerste hart oorgeplant het, maar hy wou onthou word vir sy werk met siek kinders met aangebore hartletsels.

Sy sê die hartoorplantingstegniek het nie veel verander die afgelope 50 jaar nie, maar die medikasies om verwerping teen te werk, het aansienlik verbeter. Vosloo glo die toekoms van hartoorplantings lê in xeno-oorplanting – organe van een spesie na ’n ander.

“Daar is reeds baie ver gevorder. Die idee is om varke geneties te manipuleer sodat die organe in mense oorgeplant kan word. Daar was onlangs deurbrake om die infeksies van diereskenkers af uit te skakel. Dit sou moontlik wees om diere te teel wat geneties aangepas is,” sê sy.

Volgens haar is meganiese harte steeds eerder ’n brug na oorplanting as bestemmingsterapie, maar daar is ’n deurlopende risiko vir komplikasies soos infeksie en probleme met bloeding en bloedstolling.

 

Op die meeste 4 harte per jaar nou by Groote Schuur oorgeplant

Elsabé Brits

In die begin van die 1990’s het die Groote Schuur-hospitaal, die plek van die wêreld se eerste hartoorplanting, tot 35 harte per jaar oorgeplant – vergelykbaar met die beste sentrums op aarde.

Vandag, 50 jaar nadat prof. Chris Barnard die wêreld aangegryp het met sy deurbraak, word net twee harte per jaar, op die meeste dalk vier, by Groote Schuur oorgeplant. Met die fokus wat al hoe meer na primêre gesondheidsorg geskuif het, is daar net nie meer geld vir gespesialiseerde geneeskunde nie.

Die beskikbaarheid van organe is ook een van die redes, asook die duur medikasie wat mense moet neem om verwerping teen te werk. Die enigste ander plekke in die land waar harte nog oorplant word, is in die private sektor by Netcare se hospitale: die Christaan Barnard-gedenkhospitaal, St. Augustine en Millpark.

Prof. Johan Brink, hoof van Groote Schuur se hartoorplantingseenheid en die kliniese direkteur van kardiotorakale chirurgie aan die Universiteit van Kaapstad. Foto: Elsabé BritsProf. Johan Brink, hoof van die Groote Schuur se hartoorplantingseenheid en die kliniese direkteur van kardiotorakale chirurgie aan die Universiteit van Kaapstad, sê regoor die wêreld is daar ’n afname aan orgaanoorplantings. Hy sê daar is ook beter medikasie wat baie toestande kan beheer, asook beter snykunde. Meganiese harte, al is daar newe-effekte, is ’n oplossing, maar vir die staatshospitale is dit te duur.

Omdat hulle so min opereer, het hulle nou hande geneem met die private sektor sodat van die jonger dokters daar hul kundigheid kan behou.

“Die private sektor is baie goed, maar dit is duur. Dit gaan ’n uitdaging wees met die Nasionale Gesondheidsversekering om die standaarde te behou en die geld egalig te versprei,” sê Brink.

By Groote Schuur fokus hulle onder meer op die voorkoming en behandeling van rumatiekkoors, wat nog baie voorkom. Mense wat dit “nou kry, sal oor 30 of 40 jaar in baie gevalle ’n hartklepvervanging moet kry”.

Daar is meganiese hartkleppe wat baie lank hou, maar mense moet teenstollingsmedikasie neem vir die res van hul lewe. Baie jonger pasiënte ervaar probleme daarmee. Die ander opsie is ’n bees- of varkklep, wat natuurlik is en dus hoef die medikasie nie geneem te word nie. Dit breek egter af met die jare en in jonger mense hou dit net tussen ses en tien jaar.

Die eenheid is nou besig om hul eie hartkleppe te maak wat geskik is vir die plaaslike behoeftes, veral vir die baie jonger mense wat dit moet ontvang.

“Barnard was iemand wat ongelooflik baie energie gehad het. Iemand met baie selfvertroue – hy moes dit gehad het om homself en sy span te dryf. Sy broer Marius het altyd gesê: ‘Sy beroemdheid het hom verniel’.”

Elsabé Brits

Le Roux Schoeman

Rudi Louw

Deel