Wat met Washkansky gebeur het

Profiel van ’n hartontvanger


Washkansky was reeds sterwend

Elsabé Brits

Louis Washkansky (54), op wie die wêreld se eerste hartoorplanting gedoen is, was eintlik dodelik siek. Hy het diabetes gehad en ’n wond aan sy been wat net nie gesond wou word nie.

In Julie 1967 het prof. Chris Barnard hom die eerste keer ondersoek. Toe het hy reeds erge hartversaking gehad. Hy was reeds maande sterwend in die hospitaal. So siek dat hy donkergrys van kleur was.

Die nag van die eerste hartoorplanting is geen foto’s geneem nie, ook nie in die teater nie. Eers sowat 12 uur nát die operasie, is mense gebel om terug te kom vir ’n foto, maar nie almal was daar nie. Dié foto het van die mense van die eerste hartoorplantingspan op. Voor van links: J. Pritchard (tegnikus), Tollie Lambrechts (suster), Lappies Rossouw (suster), Pittie Rautenbach (suster), Peggy Jordaan (suster), Dene Friedmann (tegnikus) en E. van den Berg (tegnikus). In die middel van links is F. North (tegnikus), dr. Joseph Ozinsky (narkotiseur), dr. Terry O’Donovan (chirurg), prof. Chris Barnard (chirurg), prof. Val Schrire (kardioloog) en dr. Rodney Hewitson (chirurg). Agter van links is dr. M.C. Botha (patoloog), dr. Bossie Bosman (chirurg), dr.J.T. Hitchcock (chirurg), Johan van Heerden (tegnikus) en N. Vermaak (tegnikus). Foto: Heart of Cape Town Museum

Die Joodse Washkansky is in 1913 in Litaue gebore en het in 1922 saam met sy ouers na Suid-Afrika gekom. Hy het reeds in 1955 sy eerste hartaanval gekry, maar aangehou rook, drink, werk en gedans saam met sy vrou, Ann.

Louis Washkansky (54) het die eerste 13 dae ná die hartoorplanting goed gevaar.Foto: Heart of Cape Town MuseumDié eienaar van ’n kruidenierswinkel was geliefd en bekend onder die Joodse gemeenskap in Kaapstad.

Sonder dat sy dit geweet het, het Ann verby die ongelukstoneel gery waar Denise Darvall en haar ma, Myrtle, raakgery is. Sy was op pad om vir haar man in die hospitaal te gaan kuier, en het die ongeluk gesien sonder om te besef wat later sou afspeel.

Volgens die argief van die Heart of Cape Town Museum het Barnard al op 10 November met Washkansky gepraat oor ’n moontlike oorplanting. Barnard het geweet twee spanne, een in Amerika en een in Brittanje, staan ook moontlik op die punt om die eerste hart oor te plant.

Op 19 November het Washkansky skriftelik toestemming tot die oorplanting gegee.

Prof. Chris Barnard by Louis Washkansky wat 18 dae ná die eerste hartoorplanting dood is aan longontsteking. Foto: Heart of Cape Town MuseumVolgens die South African Medical Journal se spesiale uitgawe van 30 Desember 1967 het Barnard vele hartoorplantings op honde gedoen. Maar geeneen van hulle het meer as ’n paar uur geleef nie.

Barnard het geskryf hy het Washkansky gekies omdat ’n oorplanting al was wat hom sou red. Hy het toe ook al beroerte gehad.

In sy jong dae het hy geboks en toe hy laat op 2 Desember hoor van die operasie, het hy volgens die Heart of Cape Town Museum se gids gesê: “Ek voel nogal bewerig – soos om in die kryt te gaan wanneer jy nie weet teen wie jy te staan gaan kom nie.”

Die eerste dag ná die operasie kon Washkansky nie praat nie, omdat hy aan die asemhalingsmasjien gekoppel was, maar hy het sy oë oopgemaak en vir Barnard geknik. Op die tweede dag kon hy regop sit en glimlag.

Prof. Chris Barnard maak gereed vir ’n operasie in die Groote Schuur-hospitaal. Foto: Heart of Cape Town MuseumMet die nasorg van Washkansky het Barnard ook die begin van intensiewe sorg ingelei deur spesifieke kundiges vir 24 uur per dag na ’n pasiënt te laat omsien in ’n afsonderlike saal. Sy beddegoed is twee keer per dag omgeruil en die min mense wat met hom gewerk het, is van kop tot tone in steriele klere uitgerus. Alles is ontsmet en die dokters en susters is getoets vir bakterieë.

Dit het goed gegaan tot 15 Desember, maar die middels wat hy gegee is teen orgaanverwerping het hom kwesbaar gemaak vir infeksie. Daar was vermoedelik reeds voor die operasie ’n infeksie. Hy het al hoe sieker geword.

Volgens die lyskouingsverslag het die nuwe hart normaal gefunksioneer en was daar geen tekens van verwerping nie. Dubbele longontsteking was die oorsaak van sy dood om 06:45 die oggend van 21 Desember.

Washkansky is begrawe sonder die skenkerhart. Dit is verwyder en bewaar. Dr. Marius Barnard, Chris se broer, en dr. M.C. Botha, een van die ander dokters in die span, was slippedraers op die begrafnis. Barnard was reeds op pad na Amerika om te verskyn op die gewilde TV-program Face the Nation.

Ann was verstom toe sy hoor die skenkerhart is dié van ’n vrou. Sy kon dit nie glo nie.

Die tragedie van Darvall en haar ma het haar geraak. Later was sy spyt dat sy geweet het wie die skenker was. “Om te weet van daardie meisie, haar lewe en familie het dit alles op ’n manier so onmenslik gemaak. My man se hart het ’n identiteit gehad. Dit was nie meer net ’n stuk vlees nie,” het sy gesê.

* Bron: Heart of Cape Town Museum

 

Elsabé Brits

Le Roux Schoeman

Rudi Louw

Deel