Broedertwis: Marius vertel

In die laaste telefoonoproepe was Chris een van die ongelukkigste mense wat ek in my lewe gesien het.


Marius: ‘Chris was gebroke’

Elsabé Brits

Sy broer het na hom probeer terugkom, maar voor sy dood kon hulle mekaar nie weer vind nie. “Jammer Chris.”

Dr. Marius Barnard het toe hy 83 was, meer as drie jaar voor sy dood, in ’n openhartige en in die eerste onderhoud in sowat 30 jaar aan Elsabé Brits vertel hoe hy oor sy broer voel.

Dr. Marius Barnard gesels in Mei 2011 by sy huis in Hermanus, oor sy broer en die verskille wat hulle gehad het. Hy is in November 2014 dood. Foto: Michael Hammond.“Hy het weer teruggekom na wat hy was, of probeer. En ek het nie, ongelukkig, ek is skuldig . . .” het hy vertel. Dit was sowat twee jaar voor sy broer, prof. Chris Barnard se dood.

In die onderhoud het hy erken hul verhouding was “baie swak” en dat hulle mekaar nie eens in dieselfde operasieteater verduur het nie, omdat dit “oorlog was”. Nadat Chris in 1983 by die Groote Schuur-hospitaal weg is, het hy nie weer sy broer se naam in die openbaar genoem nie.

“Hy was bitter ongelukkig. In die laaste telefoonoproepe was Chris een van die ongelukkigste mense wat ek in my lewe gesien het. Hy was gebroke,” het hy gesê.

Prof. Chris Barnard en sy broer, dr. Marius Barnard. Foto: Heart of Cape Town MuseumMaar Barnard het gesê sy broer het hom al te veel keer vantevore seergemaak om hom terug te verwelkom. Dat hy dit nie gedoen het nie, al het hulle oor die telefoon gepraat, het hy betreur. Barnard was ook ’n hartchirurg en het later die politiek asook versekering betree.

Hy het ook vertel van die dag toe sy broer en sy tweede vrou, Barbara, in Seepunt een aand deur ’n motor raakgery is. Albei is ernstig beseer.

“Ek het die hele nag by Chris deurgebring. Ek dink nie hy het geweet ek was daar nie, omdat hy swaar verdoof was, maar nie swaar genoeg om hom te keer om na die hartmonitor (EKG) te luister nie.

“Wanneer ’n mens aan die slaap raak, verlaag jou polsslag en soos Chris sy polsslag hoor val het, het hy dadelik wakker geword. Met ’n wilde uitdrukking het hy na die EKG gestaar. Ek is seker hy dink hy het gesterf.”

Elsabé Brits

Le Roux Schoeman

Rudi Louw

Deel