‘Ek het selfs ’n tatoeëermerk om hom te herdenk’

Armin en Lara Barnard blaai deur hul foto-albums.


Hul pa leef nog in die Karoo en in klein stukkies onthou

Elsabé Brits

Vir hom was sy pa die sinnebeeld van hul plaas Ratelfontein in die Karoo en vir haar is hy vlietende aandenkings in reuke, verhale en klein stukkies onthou.

Armin (28) en Lara (20) Barnard gesels in hul ma, Karin, en haar man, Saul Berman, se huis in Kaapstad oor hul pa, prof. Chris Barnard.

Dit is hul ma wat hom lewend hou en vele plakboeke gemaak het waarin sy ook besonderhede geskryf het, vertel hulle.

“Ek kan hom onthou, want ek was so 12 of 13 toe hy dood is. My intense liefde vir die Karoo is verbind met hom. Soveel van ons dae is op die plaas buite Richmond bestee,” vertel Armin. Hy wys die tatoeëermerk wat hy op sy boarm het, wat spesiale betekenis inhou.

“By die ingang van die plaas was daar ’n koedoeskedel en horings . . . Die reuk van stof neem my steeds terug. My liefde vir die Karoo is baie diep,” sê hy en wys die tatoeëermerk van die koedoeskedel op sy arm.

Lara onthou die speelkamer in die plaashuis. Steeds, wanneer sy op ’n plek in die platteland kom en die badwater is effe bruin, neem dit haar terug na die plaas en haar pa. “Ek onthou sulke deeltjies, want ek was baie klein toe hy dood is. Ek het ’n spesifieke herinnering aan een dag toe ek ’n vanielje-kolwyntjie op sy skoot gesit en eet het.”

Armin sê toe hy tien jaar oud was, het hy een dag gesit en huiswerk doen, wat te doen gehad het met die bekende gedig “Footprints in the Sand”. Sy pa het hom verduidelik wat dit beteken.

“Min kinders kan sê hul pa het by hulle gesit en ’n gedig aan hulle verduidelik . . . Hy het altyd gesê ’n mens sit en lees of jy sit en dink. Ook dat ’n mens elke dag vir 20 minute lank iets moet lees wat buite jou verwysingsraamwerk is.”

Lara en Armin Barnard blaai deur fotoalbums van die familie en gesels oor hul bekende pa, Chris. Foto: Le Roux SchoemanChris, sy vrou, Karin, en Armin op hul plaas in die Karoo. Foto: Heart of Cape Town MuseumDié foto wat op Plettenbergbaai geneem is van prof. Chris Barnard en Armin is Armin se gunsteling. Foto: VerskafProf. Chris Barnard en sy seun Armin op vakansie in Mauritius. Foto: VerskafLara Barnard op Kersfees in haar pa, Chris, se arms. Foto: VerskafSy “dors vir kennis het my ma ons van vertel. Sy het self soveel by hom geleer – sy weet baie meer as ander mense oor mediese terme en siektes,” vertel Lara.

Soos sy halfbroers, Frederick en Christiaan, trek Armin ook op sy pa. “Ek sal iets doen of sê en dan sal my ma opmerk dat sy nou net my pa in my gesien het. Ek sien hom die meeste wanneer my broers praat,” sê hy.

Frederick is getroud, met ’n seun en dogter, en werk as bankier in Switserland, en Christiaan is ook getroud, met twee dogters, en besit ’n kunsgalery in Kaapstad.

Soms nader mense hulle om oor Barnard te praat. Soos toe die nuwe Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal ’n jaar gelede geopen het. ’n Man het Armin genader en gesê: “As dit nie vir jou pa was nie, het ek nie ’n pa gehad nie.” Die man se pa was so te sê dood en Barnard het aangedring dat hy bygebring word. Hy het nog 40 jaar daarna geleef.

Maar op Beaufort-Wes, waar Barnard gebore is, is hy ’n held. “Ek onthou toe ek klein was en ons gaan soontoe en mense sien my ma daar, dan skree hulle: Karin! Karin! En die petroljoggies kom aangehardloop vir haar handtekening,” vertel Lara laggend.

Terwyl hulle deur die fotoalbums blaai, onthou hulle al meer. Lag en gesels hulle. “Dit is lekker om weer herinner te word,” sê Armin.

Prof. Chris Barnard se familie verlede jaar by die opening van die nuwe Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad presies 49 jaar ná die eerste hartoorplanting. Van links is Tiaan Visser, prof. Kobus Visser, Deirdre Visser, Saul Berman, dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, Karin Berman, Lara Barnard, Armin Barnard, Daniela Barnard en Christiaan Barnard. Foto: Elsabé Brits

Elsabé Brits

Le Roux Schoeman

Rudi Louw

Deel