Deel 3
Oudkollegas onthou:
Suster Georgie de Klerk
Die vrou wat dag en nag by Washkansky gewaak het.
Georgie het dag en nag by Washkansky gewaak
Elsabé Brits
Die laaste dag dat sy Louis Washkansky verpleeg het, het sy nie “gedink hy gaan dit maak nie, ek het gebid, maar ek het geweet”.
Georgie de Klerk (née Hall) was die suster in beheer van die saal waar Washkansky ná sy hartoorplanting gelê het en sy het self na hom omgesien. Vandat hy die aand uit die teater gekom het tot die voorlaaste dag van sy lewe, was sy aan sy sy.
Die laaste dag, toe hy dood is, was sy nie daar nie. Dit was haar verlowingspartytjie. “Ek het vreeslik gevoel. Dit was baie hartseer,” sê sy oor die telefoon uit haar huis in Pietermaritzburg.
De Klerk, wat in 1959 met haar opleiding by die Groote Schuur-hospitaal begin het, het in Oktober vanjaar eers afgetree. Die laaste jare het sy by ’n aftreeoord se versorgingseenheid gewerk.
Die aand van 2 Desember 1967 is sy na die hospitaal ontbied om die kamer vir Washkansky gereed te kry. Sy het ingeloer by die operasie. Die volgende 24 uur het sy die hele tyd by hom gebly. “Ons het baie lang ure gewerk.”
Die stortvloed van aandag ná die oorplanting het hulle nie verwag nie. Haar tante oorsee het haar op TV gesien jare voordat sy haarself gesien het. Sy het steeds ’n plakboek van daardie dae.
Noudat sy terugkyk, dink sy die kamer in die saal waar Washkansky gelê het, was nie ideaal nie. Al was hy alleen daar in die saal, kon mense te maklik inkom. Dié saal in die middel van die hospitaal was maklik bereikbaar. Met Barnard se tweede hartoorplanting is dit verander.
“Dit was opwindend. Ek was 26 jaar oud. Hoewel die verpleging soos dié vir enige ander pasiënt was ná ’n opehartoperasie, was dit meer intens,” sê sy.
Sy dink ook dit is moontlik dat die infeksie wat tot die longontsteking gelei het, dalk voor die operasie al onderliggend was.
“Hy was ’n wonderlike man, ’n goeie pasiënt wat die risiko’s verstaan het. So ook sy vrou, sy was ’n liewe mens.”
Toe Washkansky op sy laaste was, het hy nog gepraat, “maar nie baie nie. Hy het nooit gesê: ‘Dit is nou dit, ek gaan sterf nie.’ En niemand sou dit ook vir hom gesê het nie,” sê sy.
Volgende:
Chris Barnard:
Die Pionier