Om ’n hart te skenk

Twee dokters het Denise Darvall se pa alleen ingeroep en gevra of hy haar hart sal skenk.


Die pyn van jong Denise se wêreldberoemde hart

Elsabé Brits

Denise Darvall, skenker in die eerste hartoorplanting, se droom was om ’n modeontwerper te word. Foto: The Heart of Cape Town MuseumDie horlosie wat Denise Darvall gedra het toe sy en haar ma, Myrtle, raakgery is op 2 Desember 1967 is ongeskonde, buiten dat dit gaan staan het op halfvier – min of meer die tyd dat die motor hulle getref het.

Denise (25) is hoog die lug in geslinger en haar kop het ’n stilstaande motor se wieldop getref.

Die dronk motorbestuurder het die verkeerslig probeer klop en versnel. Denise en haar ma Myrtle (54) moes Hoofweg in Soutrivier, Kaapstad, kruis, maar ’n vragmotor regs van hulle het die uitsig versper.

Myrtle is eerste getref en is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. Bloed het by haar mond, neus en ore uitgekom.

Myrtle Darvall, die ma van Denise Darvall, is in die dieselfde ongeluk as haar dogter dood. Daarmee is die gesin sonder broodwinners gelaat. Foto: Heart of Cape Town MuseumDie tragiese gebeure het voor hul geliefdes afgespeel. Denise het vroeër die jaar vir haar ’n Ford Anglia gekoop en sy en haar ma, pa, Edward, en kleinboet, Keith (14), wou dié dag by vriende gaan kuier. Op pad soontoe het hulle gestop by Joseph Coppenberg se bakkery in Hoofweg, Soutrivier.

Dit is daar waar hulle die pad vir die laaste keer gekruis het.

Haar broer Stephen het in 2014 in sy eerste onderhoud in 47 jaar in BY aan Elsabé Brits vertel hoe sy pa en broer die ongeluk gehoor en ervaar het. Met een slag het die pa en twee seuns ’n vrou, ma, suster en die gesin se twee broodwinners verloor.

Denise het ná matriek by Standard Bank begin werk en haar ma by ’n klerewinkel nadat Edward kanker en ’n hartkwaal ontwikkel het.

Stephen Darvall, Denise se broer, hou ’n foto vas wat van hom en Denise geneem is in 1954. Tydens sy eerste onderhoud in 47 jaar, in 2014 was hy bereid om te praat, maar nie om self afgeneem te word nie. Foto: Lerato Maduna

Stephen, wat toe 17 jaar oud was, was by die gesin se woonstel in Tamboerskloof toe iemand van die Groote Schuur-hospitaal bel en sê sy ma en suster is beseer in ’n ongeluk.

Die buitepasiëntbussie het hom kom haal. Toe hy daar aankom, het hy sy pa en Keith gebroke en verlate op ’n bankie sien sit. Daar het hy gehoor sy ma is dood.

“Maar ek het nie geweet Denny – soos ons haar genoem het – is ook dood nie. Ek het net gedink baie bene is gebreek en sy is ernstig beseer.”

Twee dokters het Edward later alleen ingeroep en gevra of hulle Denise se hart kon oes om in die kritiek siek kruidenier Louis Washkansky (54) oor te plant.

Edward Darvall, Denise se pa, en Ann, Louis Washkansky se vrou. Foto: Heart of Cape Town MuseumVolgens oorlewering het hy binne minute die besluit geneem en gesê hulle moet probeer om ’n ander lewe te red as hulle hare nie kon red nie. Edward is daarvoor wyd geprys. Ook haar een nier is in die tienjarige Jonathan van Wyk oorgeplant, “maar mense het dit al vergeet”, het Stephen vertel.

Hy was geskok toe hy ’n dag later oor die radio hoor sy suster is dood én dat haar hart oorgeplant is. Sy pa het hulle niks daarvan gesê nie.

Die ongeluk het sy pa verwoes. Waar hy nog soms kon gaan werk, het hy ná daardie dag nooit weer teruggegaan werk toe nie. Hy was gebroke. Edward is ’n skrale 27 maande later dood.

Die twee seuns het jare lank swaargekry.

“Dis die lewe. Jy kan dit nie verander nie. ’n Mens dink altyd so iets sal nie met jou gebeur nie. My ma was 54 toe sy dood is, nie 53 soos dit oral aangeteken is nie. Baie mense het gesê: ‘Sy was oud, sy het al haar lewe geleef, maar ai, die arme Denise het nog nie geleef nie, sy was net 25.’ My ma was óók nog jonk.”

Hoe voel hy dat Denise se hart oorgeplant is?

“Hulle kon haar nie red nie. Sy sou doodgaan. Wat anders kon my pa doen? Ek het prof. Chris Barnard net een keer ontmoet by ’n geleentheid in die stadsaal in 1968. Hy het na ’n goeie ou gelyk,” en hy wys die getekende kopie sy outobiografie, One Life, wat Barnard aan sy pa gegee het.

Om 16:00 daardie Saterdag is Denise in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem met “serebrale skade (asook skedelbreuk) en verskeie frakture aan die bekken en regterbeen”, skryf dr. Joseph Ozinsky, een van die twee narkotiseurs wat by die eerste hartoorplanting betrokke was, in ’n spesiale uitgawe van die South African Medical Journal wat op 30 Desember 1967 gepubliseer is.

Om 21:00 die aand van 2 Desember het ’n neurochirurg bepaal Denise se breinskade is dodelik en “kan nie behandel word nie”.

Klein Denise saam met haar ma, Myrtle, en pa, Edward, op Tafelberg.Sy was toe ure reeds aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel, sy was breindood en haar pupille het nie meer reageer nie.

Denise se liggaam is om 00:45 die oggend van 3 Desember na die operasieteater gebring en masjiene het namens haar asem gehaal. Die kunsmatige asemhaling wat die hart, ander organe en sirkulasie aan die gang gehou het, het om 02:20 gestop en die hart het om 02:32 gaan staan. Daarna is haar hart verwyder.

In haar dood het sy wêreldberoemd geword.

Dié jong vrou wat nie van Elvis of die Beatles gehou het nie, maar na die plate van die koloratuursopraan Joan Sutherland geluister het, en gedroom het daarvan om ’n modeontwerper te wees.

Elsabé Brits

Le Roux Schoeman

Rudi Louw

Deel