Die man met die kamera, in Chris se spore

Sy foto’s is meer beroemd as hy. Ontmoet Don MacKenzie.


’n Man wat maklik was om af te neem

Elsabé Brits

Don MacKenzie, vriend en fotograaf wat duisende foto’s van prof. Chris Barnard geneem het, vertel van die dag toe dié foto geneem is. Foto: Le Roux SchoemanIn sy lewe het Don MacKenzie (80) duisende foto’s van prof. Chris Barnard geneem, maar hy was ook ’n vriend en het hom soms op oorsese reise vergesel.

Hy vertel in Kaapstad hoe hy Barnard in 1959 ontmoet het. MacKenzie het by die Bloedoortappingsdiens gewerk en daar het op ’n dag iemand ingekom.

“Ek kon nie konsentrasie verbreek nie, want ek was besig om bloedtipes te bepaal en ek het vir die persoon gesê: ‘Wag, ek is besig’. Toe ek ná ’n lang ruk omdraai, het hy steeds gestaan en wag. Dit was Barnard. Hy was nie kwaad nie, hy was beïndruk dat ek nie my werk gelos het nie.”

Later het MacKenzie heeltyds fotograaf geword en toe Barnard wêreldbekend geword het, het hy die meeste van sy foto’s geneem en saam met hom gereis.

“Die ergste van alles was dat hy, dié voorste pionier en dokter, net R650 per maand verdien het, en ek het R3 000 per maand verdien uit die foto’s.”

Dié nou wêreldbekende foto van prof. Chris Barnard is op ’n gewone werksdag in sy kantoor geneem. Foto: Don MacKenzieDit was maklik om Barnard af te neem – hy het nie sommer geposeer nie, maar toegelaat dat MacKenzie op reise die foto’s kry wat hy nodig het om geld te maak. “Sy hare het soms in sy gesig gehang, maar dit was wie hy was. Op ons eerste reis na Italië was sy klere verslons en oud. Hy het nie eintlik omgegee nie.”

MacKenzie het ’n Italiaanse kleremaker na die hotel laat kom wat vir hom ’n jas, twee pakke klere, dasse, skoene en hemde die volgende oggend kom aflewer het. “Daarna was hy lief vir mooi klere,” vertel hy.

“Soms het hy ’n sigaret gerook en dan het ek vir hom gesê hy kan dit nie doen nie, veral nie voor die TV-kameras en fotograwe nie. Dis nie goed vir sy beeld nie. Later het hy opgehou  . . . Hy is dood met al sy tande, en dit nadat hy sommer ’n botteltjie Coke se doppie met sy tande sou afhaal.”

Prof. Chris Barnard in 1969 op besoek aan Gaboen in die hospitaal wat dr. Albert Schweitzer gebou en bestuur het. Foto: Don MacKenzieEen oggend in 1968 was Barnard in die badkamer langs sy kantoor by Groote Schuur-hospitaal. Hy het uitgeroep na MacKenzie. “Toe ek in die badkamer kom, het die bloed uit sy mond gestroom.” Dit was omdat die middel wat hy vir sy rumatoïede artritis geneem het hom ’n bloeiende maagseer gegee het. Hy was so siek hy moes bloedoortappings kry. Daarna kon hy nooit weer die medikasie gedrink nie.

Prof. Chris Barnard in Gaboen, waar hy die hospitaal wat dr. Albert Schweitzer nagelaat het, besoek het. Foto: Don MacKenzieHy is in die hospitaal opgeneem en is hy besoek deur dr. Philip Blaiberg, die ontvanger in Barnard se tweede hartoorplanting, en Pieter Smith, ontvanger in die derde hartoorplanting. MacKenzie vertel van dié foto wat hy geneem het waar hulle maak of hulle hom “dokter”.

MacKenzie sê hy skat hy het tussen 1959 en 1983 sowat 12 000 foto’s van Barnard geneem.

Tydens die eerste hartoorplanting is geen foto’s geneem nie, want niemand daardie aand het daaraan gedink om dit te doen nie. En met die tweede hartoorplanting het Blaiberg, die ontvanger, die filmregte verkoop aan NBC van Amerika.

“Ek het nie daardie dag foto’s geneem nie, maar iemand anders het dit wel skelm gedoen en dit later probeer verkoop. Ek het hom ná die tyd uitgevang, hy was ’n dokter en hy is gevra om te gaan.”

Een van die bekendste foto’s wat hy van Barnard geneem het, was in sy kantoor. Hy was in sy teaterklere, en hulle het net die blindings in sy kantoor toegemaak. Hy het reguit na die kamera gekyk.

Prof. Chris Barnard is 1969 in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem nadat sy medikasie vir rumatoïede artritis erge komplikasies veroorsaak het. Hy is daar besoek deur Pieter Smith (links), Barnard se derde hartoorplantingspasiënt, en dr. Philip Blaiberg, Barnard se tweede hartoorplantingspasiënt. Foto: Don MacKenzie“Ek onthou dit soos nou die dag, dit het net ’n paar minute geneem . . . dit was lekker om hom af te neem,” sê hy.

Mediese dekking vir jou

Ervaring het ons geleer om te fokus op jou – die individu. Ons het diversiteit omarm en ’n reeks mediese planne ontwikkel vir verskillende lewensfases en begrotings. Danksy bekostigbare dekking, gehaltevoordele en ’n verpersoonlikte benadering tot dienslewering het ons ’n landwye lidmaatskap van meer as 200 000 Suid-Afrikaners wat hul gesondheidsorgdekking aan Medihelp mediese skema toevertrou.

Lees meer hier

Elsabé Brits

Le Roux Schoeman

Rudi Louw

Deel