Deel 1
Chris Barnard:
Die lewe en nalatenskap van ’n mediese pionier
Hy het die skenkerhart in sy hande geneem en oorgeplant in die oop borskas van die kritiek siek kruidenier Louis Washkansky. Ritmies en perfek kom lewe uit die dood: ‘Loeb-doeb, loeb-doeb, loeb-doeb’. Nou, 50 jaar nadat prof. Chris Barnard in die vroeë oggendure van 3 Desember 1967 die wêreld se eerste menslike hartoorplanting in die Groote Schuur-hospitaal uitgevoer het, kyk Elsabé Brits terug op die effek van ’n pioniersdaad.
Gepubliseer: 1 Desember 2017
Rol af om verder te lees
‘Loeb-doeb, loeb-doeb, loeb-doeb’
Voor die dokters en susters is die oop borskas van Louis Washkansky, ’n man wat klou aan die lewe.
Die stilte, en toe: ‘Hel, Rodney, dit gaan werk’
Elsabé Brits
Daar is ’n ernstige stilte in die twee operasieteaters wat net 32 treë van mekaar is.
Dit is die vroeë oggendure van 3 Desember 1967. Die wêreld se eerste hartoorplanting in die Groote Schuur-hospitaal sal net sowat vyf uur duur.
In die een teater lê die liggaam van ’n jong donkerkop vrou, Denise Darvall. Sy is breindood.
Sy enigste kans lê in dié oomblik wat wêreldgeskiedenis sal word.
Dan, die oomblik toe die oorgeplante hart begin klop: Die woorde van prof. Chris Barnard aan ’n ander dokter: “Hel, Rodney, dit gaan werk.”
Barnard onthou later: “ . . . ek het Denise se klein pienk hartjie, koud en ferm in my hande geneem.
“Ons was gereed om die hart in sy nuwe tuiste te plaas. Saggies, sorgvuldig het Rodney (Hewitson) dit in Washkansky se leë bors ingetel. Ek het ’n oomblik daarna gestaar en gewonder of dit ooit sou werk. Dit het so klein en nietig gelyk; te klein om ooit die eise wat daaraan gestel sou word die hoof te bied,” skryf Barnard oor dié oomblik in sy boek Een lewe.
Die hart begin self bewe toe die warm bloed deur die hartkamers begin stroom. Een elektriese skok.
Ritmies en perfek: Loeb-doeb, loeb-doeb, loeb-doeb.
Lewe uit die dood.
Ná die operasie bult die are in Barnard se nek van spanning. Sy broer, dr. Marius Barnard, wat in die skenkerteater was, voel aan sy pols: dis 140 slae per minuut.
Binne ’n dag weet die wêreld van dié triomf en Barnard is vir die res van sy lewe een van die bekendste mense van ons tyd.
Diegene wat hom geken het, sonder sy briljante verstand uit; sy liefde vir kinderpasiënte en sy werk as die vader van intensiewe sorg. Hoe hy deurnag by sy pasiënte gewaak het – iets wat dokters nie meer self doen nie.
’n Dogter, Deirdre, het “haar pa aan die wêreld afgestaan”, net om hom twee jaar voor sy dood eers terug te kry. Maar later kon hulle weer praat: “Dan huil ons, maar dan sê my pa vinnig iets snaaks en dan is ons weer oukei.” Tot sy van hom afskeid geneem het tydens ’n kerkdiens.
Vir ander kinders Armin en Lara leef hul pa voort in die vlaktes van die Karoo en in vlietende aandenkings in reuke, verhale en klein stukkies onthou.
Die twee Darvall-seuns en hul pa, Edward, se lewe het tragies verloop, omdat Denise en haar ma, Myrtle – wat ook in dieselfde ongeluk dood is – die broodwinners was.
“Ek het al drie my vroue baie lief gehad, hulle is beter mense as ek. Ek was maar ’n slegte man gewees . . . Ek het nie eintlik gewerk aan my huwelike nie.
“Ek kan een ding sê, ek het baie geluk in die lewe gehad. Ek hoop nie my geluk raak nou op nie. Ek sê om suksesvol te wees, moet jy ’n sekere mate van bekwaamheid hê, jy moet in die toekoms in kan kyk, jy moet bereid wees om kanse te vat en jy moet geluk hê. En van daai vier is geluk die belangrikste . . . Ek was gelukkig om die eerste hartoorplanting te doen.”
Volgende:
Chris Barnard:
Die Pionier